VF Plus verwelkom opskorting van parlementêre sessie

2020-03-17
Dr Corné Mulder

Die Vryheidsfront Plus verwelkom Dinsdag se besluit van die parlementêre hoofsweep-forum om die parlementêre sessie op te skort in ooreenstemming met die maatreëls wat deur president Cyril Ramaphosa afgekondig is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Die president het alle nie-noodsaaklike byeenkomste van meer as 100 mense ontmoedig as deel van die bekampingspoging.

Die nasionale vergadering vergader nou Woensdagoggend (18 Maart) om grondwetlike mandaatwetgewing en die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste te finaliseer.

Dit sal die parlement in staat stel om die wetlike spertye vir die finansiering van provinsiale en plaaslike regerings na te kom.

Die vroeë sluiting van die parlement vir verlof en reses sal 'n belangrike bydrae lewer tot die nasionale poging om die verspreiding van die virus te bekamp.

Die vroeë parlementêre reses sal 'n onbepaalde tyd duur en sal afhang van die verspreiding van die koronavirus in Suid-Afrika. Pres. Ramaphosa sal Woensdagoggend met die leiers van alle politieke partye vergader om die verwikkelinge te bespreek.


Kontaknommer: 083 626 1497

DrCornéMulderKoronavirusParlement

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!