VF Plus verwelkom ondersoek na optrede van Tshwane-metropolisie wat jong vrou aanrand

2019-12-09
Awie Erasmus

Die VF Plus verwelkom die ondersoek van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) na ʼn jong kleuterskool-onderwyseres van Pretoria wat glo hardhandig deur ʼn Tshwane-metropolisielid uit haar motor geruk is.

‘n Video wat wyd op sosiale media versprei word, wys hoe Kymie du Toit uit haar motor geruk, op die grond vasgedruk en geboei word. Die optrede volg nadat Du Toit na bewering geweier het om haar voertuig tot stilstand te bring toe die Tshwane-metropolisie haar op ‘n verlate plek van die pad wou aftrek.

Du Toit het besluit om eerder na ‘n vulstasie wat verlig is in Moreletapark te ry.

Volgens Du Toit is sy gedreig en is daar op ‘n stadium aan haar gesê dat sy na die Sunnyside-polisiekantoor geneem sal word waar haar lewe sal eindig. Die beamptes het glo haar bloedalkohol-vlak getoets wat bewys het dat sy nie onder die invloed van alkohol was nie.

Hierdie klaarblyklike brutaliteit van die Tshwane-metropolisie word ten sterkste veroordeel en hul gedrag word op grond van beskikbare bewyse as onaanvaarbaar beskou. Die keuring en opleiding van wetstoepassers in Suid-Afrika moet dringend onder die vergrootglas geplaas word om voorvalle soos dié te voorkom.

Buiten dat die saak ondersoek moet word, moet daar ook gekyk word na die metropolisie se houding teenoor padgebruikers in die algemeen. Daar heers ‘n ongevoeligheid teenoor motoriste wat hulself wil beskerm teen potensiële kapers en sogenaamde ‘bloulig bendes’ wat al in die verlede motoriste van die pad af gedwing het. In ‘n samelewing met ‘n geweldskultuur kan wetstoepassers nie toegelaat word om wetsgehoorsame burgers sonder rede te boelie nie.

Die Tshwane-metropolisie het aangedui dat ‘n interne ondersoek onderweg is en die uitkoms binnekort bekendgemaak sal word. Die VF Plus sal die uitslag van die ondersoek opweeg teenoor die bewysstukke en daarna verdere optrede oorweeg.

Die VF Plus is deur ‘n groep prokureurs genader wat bereid is om Kymie du Toit gratis in ʼn siviele eis te verteenwoordig.

 

Kontaknommer: 072 815 4053

AwieErasmusTshwaneMetropolisieKymieDuToit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!