VF Plus verwelkom besluit van parlement om voort te gaan met proses om OB uit haar pos te verwyder

2021-03-16
Dr Corné Mulder

Die VF Plus verwelkom die besluit dat die parlement voortgaan met die proses om die openbare beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, uit haar pos te verwyder.

Die kantoor van die OB beklee ’n kritiek-belangrike rol in Suid-Afrika aangesien dit die hoogste waghond is oor die regering.

Suid-Afrika se Grondwet maak dit duidelik dat daar drie grondliggende redes is om van die hoof van ’n sogenaamde Hoofstuk 9-instelling ontslae te raak en die voorskrifte oor hoe om dit te doen, is net so duidelik.

In die geval van Mkhwebane is aan al hierdie voorskrifte voldoen en ’n onafhanklike paneel se verslag hieroor laat geen twyfel oor sy bevinding nie.

Die paneel het bewyse gevind van die drie grondwetlike vereistes van wangedrag, onbevoegdheid en ongeskiktheid. In die geval van wangedrag en ongeskiktheid is prima facie-bewyse gevind. Daar kan nie vir meer bewyse gevra word oor die geskiktheid van Mkhwebane as die land se OB nie.

Die paneel se bevinding is kristalhelder en volgens die VF Plus het dit die parlement met geen ander keuse gelaat nie as om ingevolge die voorgeskrewe reëls nou ’n parlementêre proses te volg vir die ontslag van Mkhwebane aangesien dit in belang is van die mense van Suid-Afrika.



DrCornéMulder#BusisiweMkhwebane

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!