VF Plus versoek voorkomingstelsels om kragdiefstal in Msukaligwa-munisipaliteit uit te skakel

2022-06-21
De Villiers Arnoldi

Die VF Plus het 'n skriftelike versoek gerig aan Ntombifuthi Xhosa, speaker van die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit (Breyten, Chrissiesmeer, Davel, Ermelo, Lothair) om te vra dat voorkomende stelsels dringend in plek gesit word om grootskaalse kragdiefstal deur onwettige aansluitings te voorkom.

Hierdie onwettige verbindings lei tot groot finansiële verliese vir die munisipaliteit.

Sowat 32% (R16 miljoen) van munisipale rekeninge word maandeliks nie betaal nie. Dit sluit water en elektrisiteit in waarvan elektrisiteit bykans 60% van die rekening uitmaak en ʼn groot deel daarvan is onwettige kragverbruik.

Op 'n vorige navraag van die VF Plus is bevestig dat daar tans geen beleid of stelsel in die plaaslike munisipale bywette is wat voorsiening maak vir kragdiefstal of die vervolging van sodanige oortreders nie.

Munisipale bywette stel slegs dat die krag by die onwettige punt afgesny moet word.

Dit is onaanvaarbaar dat getroue belastingbetalers ly onder die werk van oneerlike persone wat krag steel en dié wetteloosheid kan nie langer toegelaat word nie.

Die diefstal van elektrisiteit dra by tot allerhande buitensporige tariefverhogings ten einde die munisipaliteit se hoofbron van inkomste te stabiliseer.

Uiteraard is dit die gereelde en getroue belastingbetalers wat as gevolg hiervan die spit afbyt.

Die VF Plus sal aanhou druk plaas op die Msukaligwa-munisipaliteit totdat die noodsaaklike stelsels in plek gesit is om diefstal van elektrisiteit heeltemal uit te skakel.



 

KragdiefstalDeVilliersArnoldiMsukaligwa-munisipaliteit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!