VF Plus versoek verlengde werksure by Vrystaatse toetssentrums vir hernuwing van bestuurslisensies

2021-08-17
Armand Cloete

Die VF Plus het die Vrystaatse waarnemende LUR vir polisie, paaie en vervoer, Mamiki Qabathe en die waarnemende hoof van dié departement, Mosa Tlali, dringend versoek om die kantoorure by Vrystaatse toetssentrums te verleng om motorbestuurders in staat te stel om betyds hul bestuurderslisensies te hernu.

Die amnestietydperk om bestuurslisensie te hernu wat tussen 26 Maart 2020 en 31 Desember 2020 verval het, is tot einde van Augustus van toepassing.

Die VF Plus word oorval met klagtes rakende die kantore wat vir dae en in sommige gevalle selfs weke gesluit was, toetssentrums wat ʼn tekort aan vorms het en drukwerk wat nie gedoen kon word nie.

Die Vrystaat het uitdagings regoor die provinsie se toetssentrums beleef, met beperkings op die hoeveelheid persone wat per dag gehelp kan word en nie genoeg personeel om dié proses te hanteer nie. Hierdie het bygedra tot ʼn enorme agterstand met vervalde lisensies.

Beperkte kantoorure, uitdagings met infrastruktuur en hulpbronne asook streng Covid-19-regulasies strem die aansoekproses en veroorsaak dat baie bestuurders nie betyds hul aansoeke kan indien nie.

Hierdie voorgestelde maatreëls sal bestuurders aanmoedig om hul bestuurslisensies wettiglik in die beskikbare tyd te hernu. Dit sal ook lang rye en 'n verwagte stormloop by toetssentrums beperk dae voor die sperdatum.

Die Vrystaat as sentrale punt in die Suid-Afrikaanse padnetwerk behoort die toonaangewende provinsie te wees wat wettige padverbruikers aanbetref en daarom eis die VF Plus dat die departement sy samewerking gee om dit vir die publiek te vergemaklik.



 

ArmandCloete#Covid19SABestuurslisensies

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!