VF Plus versoek polisie om kabeldiefstal in Emalahleni ʼn prioriteit te maak

2022-06-27
Sharon Schlachter

Die VF Plus in die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, Emalahleni/Witbank) het ʼn versoekskrywe gerig aan die plaaslike stasiebevelvoerder, brig. Moses Bolton, waarin hy versoek word om dringend in te gryp in die toenemende plaaslike probleem van kabeldiefstal.

'n Skriftelike versoek is ook gerig aan die burgemeester, Conny Nkalitshana, om te vra dat voorkomende optrede teen kabeldiefstal drasties opgeskerp word.

Dit is onaanvaarbaar dat daar eers aandag gegee word aan die probleem wanneer die kabels reeds gesteel is. Die VF Plus dring daarop aan dat planne so gou doenlik in plek gestel word om die diefstal van kragkabels en die vandalisme van kraginfrastruktuur te voorkom.

Inwoners in die wyke rondom die Doornpoort- en Grobler-substasies word gereeld weens kabeldiefstal sonder elektrisiteit gelaat.

Benewens ʼn groter polisie-teenwoordigheid en ander voorkomende stappe, kan plaaslike sekerheidsmaatskappye ook gebruik word om die probleemgebiede te patrolleer.

Die VF Plus sal nie toekyk hoe hierdie probleem inwoners verontrief en die ekonomiese groei in dié gebied striem nie.

KabeldiefstalSharonSchlacter

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!