VF Plus verower derde DA-wyk in ses maande

2020-01-16
Dr Pieter Groenewald

Die uitslag van die tussenverkiesing in Wyk 9 van die Mamusa-munisipaliteit (Schweizer-Reneke) dien as bewys van die volgehoue toename in kiesers wat hul vertroue in die VF Plus plaas. Die VF Plus het hierdie wyk van die DA verower.

Dit is die derde wyk wat die VF Plus die afgelope ses maande in Noordwes van die DA verower het. Die VF Plus se aantal stemme het sedert die 2016-munisipale verkiesing met 87,5% gestyg terwyl die DA 65% van sy stemme verloor het. Die VF Plus het ook geslaag om sy steunbasis in die wyk sedert die 2019-algemene verkiesing te vergroot.

Die VF Plus-kandidaat, Nico Killian, het die wyk gewen. Killian is ‘n ervare raadslid wat alles in sy vermoë sal doen om Wyk 9 se inwoners se belange te dien. Die Mamusa-munisipale raad is deur die provinsiale regering ontbind wat tot gister se herverkiesing van die munisipale raad tot gevolg gehad het. Die inwoners van dié munisipaliteit gaan gebuk onder die totale verval van dienslewering wat die ANC teweeg gebring het.

Die finale uitslag van die proporsionele setels is in hierdie stadium onbekend. Wyk 9 se uitslag is egter reeds ‘n aanduiding van die groei wat die VF Plus in hierdie munisipaliteit geniet.

Die VF Plus sal voortbou op dié oorwinning en werkbare oplossings bied aan inwoners wat ly as gevolg van swak dienslewering.

Die VF Plus bedank elke kieser wat sy vertroue in die party geplaas het en gister gestem het vir die groeiende alternatief wat ware verandering bring. Die toename in steun versterk die party se mandaat om sy beleid te bevorder en sy kiesers se belange te dien.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 082 674 6670

SchweizerRenekeDrPieterGroenewaldMamusaMunisipaliteit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!