VF Plus veroordeel vandalisme by wykskantoor in Stilfontein

2021-06-14
Fanie Kloppers

Die VF Plus in die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein) veroordeel die sinnelose vandalisme by die munisipale wykskantoor in Stilfontein waar daar oor die naweek ingebreek is.

Die kantoor huisves die raadslid van Wyk 30 en sy wykskomitee en is dus die spilpunt van munisipale dienslewering in Stilfontein.

Wat vreemd opval, is die feit dat slegs ‘n ketel en mikrogolfoond vermis word, maar dat die inbrekers skynbaar geen moeite ontsien het om die kantoor te verwoes nie.

Krane is afgebreek, die lugversorger, meubels, deure en matte is verwoes. Selfs die toilette is gebreek en die waterpype en elektriese bedrading is uitgebreek en verniel. Die skade beloop derduisende rande.

Dit is duidelik geen gewone inbraak nie en ‘n politieke motief vir die voorval word nie uitgesluit nie.

Die VF Plus het die inbraak by die polisie aangemeld en daar is reeds met die ondersoek begin. Daar is duidelike vingerafdrukke op die toneel gevind en alle leidrade word opgevolg. Plaaslike gemeenskapsveiligheidstrukture ondersteun die polisie in die ondersoek en win inligting in.

Die VF Plus het die munisipale bestuur versoek om dringend met herstelwerk by die kantoor te begin om te verseker dat dienslewering aan die gemeenskap nie ontwrig word nie.

Hierdie voorval belig weer die noodsaak dat die ANC-beheerde munisipaliteit sy verpligtinge moet begin nakom en verseker dat munisipale geboue en gemeenskapsbates behoorlik beveilig word.

Onnodige skade aan munisipale bates kan voorkom word en kan die belastingbetalers van Matlosana sodoende miljoene rand per jaar bespaar.

Dit is ‘n skande dat misdaad toegelaat word om sulke afmetings aan te neem waar selfs basiese gemeenskapsdienste nou aangeval en ontwrig word.

Kiesers moet in die komende verkiesing opstaan en saam met die VF Plus ‘n sterk poging aanwend om die ANC op alle vlakke uit regering te verwyder. Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas om wet en orde in die samelewing te herstel.

Navrae: 082 443 5569

MatlosanaMunicipalityWykskantoor

Found this interesting? Share it!