Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

VF Plus veroordeel optrede van Noordwes-speaker, Susan Dantjie, en haar kantoor na chaos in wetgewer

Die VF Plus in die Noordwes het vandag tydens ‘n sitting van die wetgewer sterk beswaar aangeteken teen die obstruktiewe optrede van die speaker, Susan Dantjie, en die oënskynlike onvermoë van haar kantoor om wetgewersittings behoorlik te reël.

Die vergadering was van meet af aan in chaos gedompel weens verskeie tegniese probleme en leemtes met prosedures.

Selfs na verskeie versoeke van onder meer die VF Plus dat die vergadering tydelik verdaag word sodat hierdie probleme uitgestryk kon word, het die speaker botweg geweier en het die chaos voortgeduur.

Verskeie lede van die wetgewer kon nie effektief aan die virtuele vergadering deelneem nie en lede van die publiek is ook uitgesluit. Sulke deelname en publieke toegang tot vergaderings van die wetgewer word uitdruklik deur wetgewing en ordereëlings voorgeskryf. Die VF Plus het hierop onttrek van die vergadering.

Dit is totaal onaanvaarbaar dat ‘n belangrike sitting, waar die hertoedeling van toegewysde inkomste aan Noordwes bespreek sou word, in chaos verval het deur die optrede van die speaker en haar kantoor.

Hierdie optrede ondermyn nie net effektiewe oorsig deur demokraties verkose wetgewerlede nie, maar ook die geloofwaardigheid van die wetgewer in ‘n provinsie wat reeds met enorme uitdagings te kampe het.

Die VF Plus sal alle toepaslike wetlike en proseduriële stappe neem om te verseker dat die geloofwaardigheid van die wetgewer en die legitimiteit van wetgewende prosesse in Noordwes beskerm word.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.