VF Plus veroordeel jongste moord op bejaarde vrou van Paul Roux

2021-07-15
Jan van Niekerk

Die VF Plus veroordeel die jongste moord van 'n bejaarde vrou (78) in Paul Roux.

Die oorledene is gister in die vroeë oggendure in haar huis in `n aftreeoord aangerand en gemartel, met ‘n mes gesteek en vir dood agtergelaat.

Die identiteit van die oorledene is bekend, maar weens die sensitiewe aard en uit respek vir die familie word dit weerhou.

Die mes waarmee die bejaarde gesteek is, is onder haar bewustelose liggaam gevind.

Sy het later in die hospitaal aan haar wonde beswyk.

Die VF Plus verwelkom die feit dat ‘n verdagte intussen in hegtenis geneem is, maar die feit dat 'n bejaarde persoon so wreed in ‘n aftreeoord tussen ander bejaardes vermoor is, is ‘n bewys dat misdadigers nie afgeskrik word deur die polisie of die regstelsel nie.

Hierdie voorval bevestig die VF Plus se standpunt dat die huidige strafmaatreëls nie as afskrikmiddel vir misdadigers dien nie.

Die VF Plus pleit vir beter polisiëring en swaarder strawwe.

Die VF Plus sal aanhou om druk op die regering te plaas om aandag te skenk aan hierdie soort misdaad om verdere onnodige bloedvergieting te voorkom.



JanVanNiekerkMoordPaulRoux

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!