VF Plus teken protes aan teen Dawid Kruiper-munisipaliteit wat Upington toerisme-inkomste ontneem

2022-11-18
Hennie Roux

Die VF Plus en die gemeenskap van Upington het aan ʼn protesoptog in dié dorp deelgeneem oor die ANC-beheerde Dawid Kruiper-plaaslike munisipaliteit se kortsigtige besluite wat Upington ʼn broodnodige ekonomiese inspuiting uit toerisme ontneem.

Die Dawid Kruiper munisipaliteit bedien Mier, Rietfontein en Upington.

Tydens 'n onlangse raadsvergadering het die ANC slegs een moontlike huurder vir Die Eiland-vakansieoord vir oorweging aan die raad voorgelê.

Die VF Plus het sy ontevredenheid met die proses wat gevolg is uitgespreek aangesien die gemeenskap nie ʼn geleentheid gehad het om self ʼn bod in te sit om die oord te huur nie.

Die Eiland is ’n enorme bate vir Dawid Kruiper, maar het oor die jare ernstig verval. Dit word onderbenut en vandalisme is ʼn groot probleem.

Die Eiland behoort aan die munisipaliteit en is een van die verskeie toerisme-aantreklikhede en ontspanningsgeriewe wat die munisipaliteit al tot niet laat gaan het.

Wat die gemeenskap verder warm onder die kraag het, is dat die munisipaliteit mnr. Sakkie Spangenberg se huurkontrak vir die munisipale grond waar hy sy vlot genaamd Sakkie se Arkie bedryf, nie wil hernu nie.

Mnr. Spangenberg huur die betrokke stuk grond reeds vanaf 1999 van die munisipaliteit. Sy huurkontrak is twee keer verleng, maar is tot groot ontsteltenis van Upington se inwoners vroeër vanjaar beëindig.

Sakkie se Arkie is een van die laaste plekke waar die gemeenskap kan gaan om te ontspan en die buitelewe te geniet.

Toeriste besoek ook graag Sakkie se Arkie vir besigtigingstoere op die Oranjerivier.

Die VF Plus dring daarop aan dat die munisipaliteit mnr. Spangenberg se huurkontrak hernu en die huurkontrak van Die Eiland kanselleer en weer oopstel vir aansoeke.

Daar moet ook ʼn deursigtige proses gevolg word waarin die gemeenskap kan deelneem.

Die VF Plus bedank die inwoners van Upington wat gister saam met die party opgestaan het teen die ANC se vergrype en wanbestuur van die Dawid Kruiper-munisipaliteit.

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!