Die agterstand in mediese prosedures in staatshospitale staan tans op 175 000 en die VF Plus het die minister van gesondheid, Joe Phaahla, gister oor dié skrikwekkende stand van sake getakel.
Die party het hom tydens ʼn sitting van die portefeuljekomitee oor gesondheid sterk uitgespreek teen die regering se onbevoegdheid.
Die omvang van die agterstand is só groot dat dit selfs dekades kan duur om in te haal.
Die agterstand in die aanstelling van dokters en verpleegsters moet dringend aangespreek word.
Omvattende planne is nodig om die prosedures gereeld te doen aangesien dit lewe of dood vir pasiënte kan beteken.
Die regering self het hierdie krisis in die Covid-tydperk veroorsaak toe mediese prosedures gestaak is. Dit het veroorsaak dat Suid-Afrika tans in hierdie desperate en wanordelike situasie verkeer.
Die VF Plus het voorgestel dat die minister en lede van die parlement dalk selfs van staatshospitale gebruik moet maak.
Dan kan hulle ervaar hoe dit voel om tot sewe jaar te wag vir ʼn heupvervanging met die pyn wat daarmee gepaard gaan. Die moontlikheid is goed dat die probleem dan vinnig opgelos sal word.
Die regering wat hierdie chaos veroorsaak het, wil midde in die wanorde steeds die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) instel wat net tot verdere chaos en wanorde gaan lei.
Die land se gesondheidstelsel sal eers weer verbeter onder ʼn bevoegde regering wat vir al sy inwoners omgee. Suid-Afrika verdien beter as die ANC.