VF Plus steun aanstel van parlementêre komitee oor Phala Phala

2022-06-28
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus steun die voorstel om ʼn parlementêre komitee aan te stel om die volle aangeleentheid rondom die Phala Phala-voorval en pres. Cyril Ramaphosa se rol daarin te ondersoek.

Pres. Ramaphosa het reeds gesê hy is bereid om voor die ANC se integriteitskomitee te verskyn om antwoorde te verskaf oor wat rondom die diefstal van geld op sy plaas gebeur het.

Om hierdie rede is daar ʼn groter verpligting op hom om ook voor ʼn parlementêre komitee te verskyn om antwoorde oor die aangeleentheid te verskaf.

Indien hy dit nie wil doen nie en daar nie so ʼn parlementêre komitee aangestel word nie, beteken dit eenvoudig dat die president die belange van die ANC hoër ag as die belange van Suid-Afrika.

Daar moet onthou word dat pres. Ramaphosa as president van die land verantwoordbaar is teenoor die parlement aangesien hy ʼn begroting kry van belastingbetalers se geld.

Die parlement het ook die vermoë om ʼn mosie van wantroue in die president te stel en daarom is dit belangrik dat so ʼn komitee aangestel word om sy eie ondersoek te doen.

Die aanbeveling van die Zondo-kommissie na staatskaping dat ʼn parlementêre portefeuljekomitee vir die presidensie aangestel word, sluit hierby aan.

Die VF Plus steun ook hierdie voorstel om ʼn groter oorsigrol aan die parlement te verskaf.

PieterGroenewaldPresidentRamaphosa

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!