VF Plus stem teen Gauteng-provinsiale begroting weens verskerpte diskriminasie onder die dekmantel van Covid-19

2020-06-23
Adv Anton Alberts

Die VF Plus het vandag teen Gauteng se provinsiale begroting gestem weens die smet van rassisme wat daaraan kleef.

Die vorige begrotings het aan dieselfde gebrek gely, maar die ANC-regering het op nasionale en provinsiale vlak sy rassistiese beleid verskerp onder die dekmantel dat dit nodig is om die effek van Covid-19 en die grendelstaat tee te werk. In effek het die ANC Covid-19 nou as wapen begin gebruik om de jure teen wittes en de facto teen bruines en Indiërs te diskrimineer.

Met die aanbreek van die grendelstaat het meeste Suid-Afrikaners die eerste fase aanvaar as nodig om die staat kans te gee om gereed te maak vir die hantering van die pandemie.

Meeste Suid-Afrikaners het saamgewerk en verdien lof daarvoor. In Gauteng het politieke partyleiers gereeld met die premier vergader om die pandemie te bespreek en te help bestuur. Dit het vir 'n oomblik die illusie geskep dat ons vir die eerste keer sedert die aanbreek van die nuwe bedeling kan saamstry teen 'n gesamentlike vyand, meer pragmaties kan raak wat beleid betref en planne kan implementeer wat werk en wat nie blindelings ideologie najaag nie.

Daardie hoop het egter beskaam soos die ANC-regering tipies aan sy sentralistiese aard en besmet met Sowjetologie verval het in regressie tot die gemiddelde met beleid tipies van regerings wat hul state vernietig het, soos Zimbabwe, Venezuela, Kuba, en Noord-Korea.

Dit het derhalwe nie lank geneem vir die waarnemende LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Panyasa Lesufi, om voedselhulp te probeer sentraliseer sodat die staat alleen kan bepaal wie kry kospakkies en wie kry nie. Dit het die mensgemaakte hongersnood in Rusland, Oekraine en Sjina onder kommuniste wat buig voor die beelde van sosiale ingenieurswese, in herinnering gebring.

Dit is ook interessant en van belang dat 'n verslag van Lesufi wat aan die VF Plus gegee is, aandui wie kospakkies gekry het. Die verslag is demografies van aard en dui aan dat slegs swartes en bruinmense kospakkies ontvang het ten spyte van ondernemings dat almal gehelp sou word.

Geen wittes of Indiërs verskyn in die verslag nie. Die VF Plus het skriftelike vrae gerig of die verslag wel korrek is. Indien wel, is die implikasie verreikend aangesien die Gautengse regering dan verseker teen sekere mense gediskrimineer het en die vrese vir sentralisasie dus geldig was.

Lesufi het afgestaan van sy sentralistiese beleid na druk op hom vanuit verskeie oorde, insluitende die VF Plus wat 'n skrywe in dié verband aan die premier gestuur het. Tydens die volgende premiersvergadering was die kwessie opgelos.

Behalwe vir die verspreiding van voedsel, het die VF Plus gemerk hoe klein-sakeondernemings wat om hulp aansoek doen by die nuut-geskepte Gauteng-kleinsakefonds, deur die provinsiale ANC-regering ondermyn word deur die fynskrif wat voorkeur gee aan klein-ondernemings in die informele sektor en woongebiede. Almal kon dus aansoek doen om hulp, maar jy sal dit nie kry as jy nie 'n sekere velkleur het nie. Asof besighede van wit eienaars nie swartes in diens het nie.

Talle Gautengse ANC-leiers het hul nasionale eweknieë nagepraat dat Covid-19 'n geleentheid is om radikale ekonomiese transformasie tot sy logiese konklusie deur te voer en marsjeer só in gelid na die skepping van nog 'n mislukte kommunistiese Utopie, dié keer binne Suid-Afrika.

Die VF Plus sal daarom die ANC se begrotings wat sy beleid finansier teenstaan en sal ook die implementering van die ANC se utopiese drome vir 'n gefaalde staat met alle mag teenstaan.


Navrae: 082 391 3117

AdvAntonAlbertsGautengBegroting#Covid19SouthAfricaRassisme

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!