VF Plus staan verhoogde watertariewe en installering van waterbeperkers in NMBM teen

2022-01-12
Bill Harington

Die VF Plus het tydens ʼn debat in die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM) die verhoging van watertariewe en die installering van waterbeperkers by inwoners se huise sterk teengestaan.

Die ANC-geleide koalisieregering wou die maatreëls instel om inwoners te dwing om water te bespaar terwyl daar sowat 6000 waterlekkasies in die metro is wat nog nie herstel is nie.

Water vloei vir dae, weke en soms maande deur die metro se strate weens lekkasies wat tussen sewe tot veertien dae neem om herstel te word.

Die VF Plus het die metro gemaan om die ouditeur-generaal (OG) se verslag, wat die metro maan om dringend foutiewe watermeters te herstel om sodoende korrekte waterrekeninge aan inwoners te verskaf, ter harte te neem.

Die NMBM moet eers sy huis in orde kry om waterlekkasies vinniger te herstel en waterinfrastruktuur in stand te hou voordat inwoners, wat reeds hul bes doen om water te bespaar, gestraf word met verhoogde tariewe en waterbeperkers.

Druk van die VF Plus en ander opposisiepartye het daartoe gelei dat die uitvoerende burgemeester, Eugene Johnson, die voorstelle teruggetrek het.

Die VF Plus sal nie toelaat dat getroue belastingbetalers gestraf word vir die onbevoegdheid van die ANC en sy koalisievennote nie.


Navrae: 072 582 3461

 

NelsonMandelaBaaiBillHaringtonWatertarieweWaterbeperkings

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!