VF Plus soek antwoorde oor beweerde bedrog en korrupsie by Raad op Mediese Skemas (RMS)

2019-10-11
Philip van Staden

Daar is groot onduidelikheid oor die omvang van moontlike bedrog en korrupsie by die Raad op Mediese Skemas (RMS) en die VF Plus het hierdie week in die parlement aangedring op antwoorde oor die raad se ondersoek na die ongerymdhede.

Die VF Plus wou van die raad besonderhede kry oor mediaberigte enkele weke gelede waarin vermeld word van beweerde wanpraktyke in die raad waarvoor vyf mense reeds geskors is.

Die RMS is ‘n statutêre liggaam wat deur die parlement in die lewe geroep is om mediese skemas te reguleer. Luidens die onlangse berigte is vyf van die raad se lede geskors oor bewerings van ongerymdhede soos korrupsie en onetiese gedrag.

Twee van die persone is glo uitvoerende lede en drie is senior bestuurders. Dit laat die rooi ligte flikker oor die raad wat toesig moet hou oor ‘n bedryf van sowat R180 miljard, geld wat bygedra word deur lede van mediese fondse.

In antwoord op die VF Plus se vraag was dit duidelik dat die raad nog nie weet wat die bedrag is waarmee moontlike bedrog en korrupsie gepleeg is nie, alhoewel die koste van die ondersoek al sowat R24miljoen beloop. Die ondersoek begin self begin daarom al neerkom op vermorsing.

Die situasie is skokkend en onaanvaarbaar. Miljoene rande word bestee aan ʼn ondersoek om ‘n bedrag geld op te spoor wat onbekend is. Dit het byna die absurde punt bereik waar nou ook ʼn ondersoek gedoen moet word om vas te stel of daar nie ongerymdhede met die huidige ondersoek is nie.

Sulke optrede kan nie langer geduld word nie. Korrupsie in die gesondheidsbedryf moet totaal en al uitgeroei word. Die VF Plus sal die aangeleentheid fyn dophou om seker te maak dat die aangeleentheid nie ʼn verdere vermorsing van geld is nie en dat die skuldiges aan die man gebring word.

Die VF Plus sal die minister hieroor nader om te hoor wat die optrede van sy kantoor gaan wees aangesien die RMS befonds word deur die departement van gesondheid en die nasionale tesourie.

Navrae: 060 556 4347  (012) 772 4410  (021) 403 3036

 

PhilipVanStadenGesondheid

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!