Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

VF Plus se aandrang op nuwe administrateur vir Emfuleni werp vrugte af – tyd sal leer of hy munisipaliteit kan regruk

Die VF Plus se versoeke aan die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Gogta), Lebogang Maile, om die administrateur van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) te vervang, het vrugte afgewerp met die aanstelling van Gilberto Martins as nuwe administrateur.

Die VF Plus het verlede jaar verskeie versoeke aan Maile gerig om die onbekwame Willi Billa, wat in Junie 2020 aangestel is, te vervang met ‘n kundige persoon in die bestuur van plaaslike owerhede.

Alhoewel Martins beperkte ondervinding in plaaslike bestuur het, sal die VF Plus hom ‘n kans gun om ‘n omkeerstrategie vir Emfuleni in werking te stel.

Martins het ‘n groot taak om dienslewering in Emfuleni weer op standaard te kry en die VF Plus beveel aan dat hy heel eerste ontslae raak van onbevoegde kaders in die munisipaliteit en hul vervang met kundige amptenare wat dienslewering kan regruk.

Billa se tydperk as administrateur van Emfuleni is gekenmerk deur ernstige kragonderbrekings weens stukkende kragkabels wat gebiede soos Drie Riviere vir bykans ‘n maand sonder krag gelaat het, munisipale bankrekeninge wat gevries is, diensverskaffers wat nie betaal is nie, wateronderbrekings, swak of byna geen dienslewering, rioolstortings en meer.

Die vervanging van Billa met Martins kan dalk tydelike verligting bring vir die inwoners van Emfuleni, maar die enigste permanente oplossing vir dié munisipaliteit se dienslewering- en finansiële probleme, sal wees om die onbevoegde ANC uit die kussings te lig en te vervang met ‘n verantwoordelike munisipale regering. Die plaaslike regeringsverkiesing later die jaar bied aan kiesers daardie geleentheid.

Die VF Plus in Emfuleni sal voortgaan om sy plig teenoor getroue belastingbetalers na te kom en sal alles moontlik doen om toe te sien dat inwoners die dienste ontvang waarvoor hulle betaal.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.