VF Plus sal volgehoue druk op ANC in Gauteng verhoog

2019-05-23
Adv Anton Alberts

Die VF Plus het gister sy posisie in die Gautengse provinsiale wetgewer verder versterk toe regter-president Dustin Mlambo adv. Anton Alberts, me. Amanda de Lange en mnr. Kobus Hoffman van die party as lede ingesweer het.

Wetgewerslede het ‘n duidelike boodskap aan die ANC in Gauteng gestuur van hul voornemens om volgehoue druk op dié gekweste party toe te pas om sy steun nog verder te verlaag.

Die ANC kon gedurende die afgelope verkiesing net-net daarin slaag om die Gauteng-provinsie met een setel te behou.

Die krimpende party se dalende gewildheid was gister meer sigbaar toe die ANC die premierskandidaat-nominasie van David Makhura met net 'n paar stemme gewen het.

Die VF Plus gaan die ANC se lae kieserstal tot sy voordeel gebruik deur mosies in te dien en so kwessies waaroor kiesers bekommerd is, na die tafel te bring. Die VF Plus sal, onder meer, bly veg vir die finale afskaffing van e-tol, sorg dat Afrikaans en moedertaal-onderrig in skole bly, gesondheidsorg verbeter en staatsdienslewering drasties verbeter om so meer werksgeleenthede te skep.

Op die vlak van onderwys sal gefokus word op die beskerming van moedertaal-onderrig, die oprigting van meer skole, die onderhoud van bestaande skole en die beskerming van die reg van ouers om hul kinders na die skool van hul keuse te stuur.

Die party sal hom beywer om hospitale en klinieke se dienste te verbeter deur die voorsiening van genoeg medisyne, toerusting en die instandhouding daarvan.

Die veiligheid van elke persoon is belangrik en daarom wil die VF Plus sorg dat ‘n omvattende landelike veiligheidsplan in samewerking met die polisie geïmplementeer en uitgevoer word.

Adv. Alberts as koukusleier sal op die onderwys- en gesondheidsportefeulje dien, terwyl mnr. Hoffman die party op die gemeenskapsveiligheid-portefeulje sal verteenwoordig. Me. De Lange sal as hoofsweep finansiële oorsig toepas in die staande komitee oor openbare rekeninge.

Die VF Plus sal aanhou terugslaan om seker te maak dat die party in die komende munisipale verkiesing in 2021 nog beter presteer.


Kontaknommer: 082 391 3117


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!