VF Plus sal toesien dat polisie hul plig doen om mense in Potgietersrus te beskerm

2019-09-06
Marcelle Maritz

Die VF Plus is geskok oor die dreigemente van oproerige gemeenskapslede om ʼn kleuterskool in Potgietersrus aan te val en het reeds gesprek gevoer met die polisie om seker te maak die skool en die gemeenskap word beskerm.

Die gemeenskap dring onder meer daarop aan dat die Speelparadys-kleuterskool sy deure sluit. Van die mense het die skool gedreig om die gebou met ʼn tuisgemaakte petrolbom aan die band te steek.

Die probleem het sy ontstaan in onmin tussen twee strydende faksies wat ontevrede is oor grootskaalse korrupsie in die Mogalakwena-munisipaliteit en dreig om alles tot stilstand te bring indien president Cyril Ramaphosa hulle nie besoek en die probleem bespreek nie.

Die VF Plus is veral besorg oor die personeel en kinders by die kleuterskool. Dit is onaanvaarbaar dat die gemeenskap en selfs kinders gedreig word en in vrees moet lewe.

Die party sal die saak aanmeld by die polisie en vra dat die dreigement ondersoek word. ʼn Foto waarop ʼn persoon met die petrolbom sigbaar is, sal ook aan die polisie oorhandig word. Intimidasie  en wettelose optrede mag nie geduld word nie.

MarcelleMaritzLimpopoMogalakwena

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!