VF Plus sal druk volhou op regering om met droogte in Noord-Kaap te help

2019-10-09
Dr Pieter Groenewald

Beloftes van die adjunk-president, mnr. David Mabuza, om boere in die droogtegeteisterde Noord-Kaap geldelik te help word verwelkom, maar dit mag nie by beloftes bly nie en die VF Plus sal aanhou om druk op die regering te plaas om die boere daadwerklik by te staan.

Daar moet lesse geneem word uit die droogte in Namibië wat dié land se veegetalle feitlik gehalveer het. Die Suid-Afrikaanse regering mag nie toelaat dat dieselfde situasie in die Noord-Kaap afspeel nie.

Die VF Plus sal ook druk op die regering uitoefen om toe te sien dat die Noord-Kaap tot nasionale rampgebied verklaar word sodat fondse uit die ramp-noodlenigingsfonds beskikbaar gestel word.

Die onlangse besoek van die VF Plus (dr. Pieter Groenewald) saam met die adjunk-president aan die gebied was een van die stappe om dit te bewerkstellig.

Die VF Plus verwelkom die erkenning wat mnr. Mabuza aan die VF Plus gegee het na aanleiding van ʼn versoek van die VF Plus in die parlement vroeër vanjaar om indringend aandag te skenk aan die droogte in die Noord-Kaap wat jare reeds duur en ramp-afmetings aangeneem het.

Die adjunk-president het met sy besoek verlede Vrydag eerstehands kennis opgedoen van die vernietigende droogte en het gesê die gebied behoort as rampgebied verklaar te word.

Dit sal erkenning gee aan die belangrike rol wat boere speel om die land se kosmandjie te vul. Hierdie woorde moet nou met dade aangevul word, en die VF Plus sal toesien dat dit gebeur.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!