VF Plus-reaksie op mediumtermynbegrotingsrede

2013-10-23
Dr Pieter Mulder

Die vraag is waarom dit bykans 20 jaar vanaf 1994 geneem het vir die regering om te besef dat die vermorsing van geld op luukse ministershuise en op kredietkaarte die verkeerde boodskap aan die publiek stuur en nie bekostigbaar is nie.

Die VF Plus verwelkom wel hierdie besparingsmaatreëls en beperkinge op luukse staatsuitgawes wat minister Pravin Gordhan as deel van sy mediumtermynbegrotingsrede aangekondig het.

Die redes vir die strenger maatreëls is die verminderde belastinginkomste wat die staat ontvang het en beslis die naderende verkiesing.

Die afgelope 19 jaar het die regering daaraan gewoond geraak dat die belastinginkomste elke jaar meer is as wat voorspel is. Die minister van Finansies het nou aangekondig dat minder belasting as wat verwag is, ingevorder is. Waar die mynbousektor in die verlede tot R22 miljard ingebring het, het dit vanjaar slegs ongeveer R12 miljard ingebring. Die mynstakings doen die ekonomie en die belastinginkomste dus baie skade.

Die voorgestelde besparingsmaatreëls, soos minder luukse behuising en verversings, sal nie soveel belastinggeld spaar nie as wat dit ‘n sterk boodskap na buite stuur oor die krisis waarin die ekonomie en die staatsfinansies hulle bevind. Selfsugtige vakbonde wat slegs aan hulle eie lede dink deur tot 60% verhogings te eis, is van die ernstigste Suid-Afrikaanse ekonomiese probleme. As die regering nie gaan slaag om die groot tekort op die begroting vinnig te verminder nie, kan Suid-Afrika se kredietgraderings weer laer aangepas word.

“As adjunkminister maak ek nie gebruik van ‘n ministershuis in Kaapstad of in Pretoria nie en het ek ook nie ’n kredietkaart nie. Met die ampsmotor wat die departement in 2009 aangekoop het, is die DA-riglyn van 50% gevolg en nie die ministeriële handboek se 70% nie,” het dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus gesê. 

 

Dr. Pieter Mulder

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!