VF Plus plaas Mangaung-metro op terme

2019-11-28
Wouter Wessels

Bloemwater het skriftelik bevestig dat hy weier om water vanaf die Rustfonteindam na die Mockesdam vry te stel weens die metro se wanbetaling van sy maandelikse rekening die afgelope drie maande. Krane kan moontlik reeds vanaand in die noorde van Bloemfontein opdroog.

Daar word tans geen rou water na die dolleë Mockesdam vrygestel te midde van ‘n hittegolf en die volgehoue droogte nie.

Dit is duidelik dat hierdie krisis 'n voortsetting is van die dispuut tussen Bloemwater en die metro oor uitstaande skuld.

Die Rustfonteindam het tans genoeg water om onmiddellike verligting in die noorde van Bloemfontein te bring.

Die VF Plus het prokureursbriewe aan die Mangaung-metro en Bloemwater gestuur. Die metro is op terme geplaas en die VF Plus gee die partye tot Vrydag, 29 November 2019, om 'n oplossing te vind en die sluise oop te maak. Indien daar nie betyds voldoende optrede is om 'n oplossing te vind nie, sal die VF Plus regstappe oorweeg.

Mangaung-metro het ‘n kontraktuele en grondwetlike verpligting teenoor sy inwoners om water te voorsien.

Die metro se swak beplanning en onbevoegde amptenare kortwiek sy poging om krisisbestuur te midde van die droogte toe te pas. Inwoners moet die prys betaal omdat die metro reaktief optree deur eers agting te gee aan krisisse wanneer dit te laat is.

Dit is onaanvaarbaar dat inwoners se grondwetlike reg tot water deur die dispuut tussen Mangaung-metro en Bloemwater bedreig word.

Die VF Plus tree op in belang van die gemeenskap en sal die nodige stappe neem om toe te sien dat daar in inwoners se basiese behoeftes voorsien word.


Kontaknommer: 082 674 6670

WouterWesselsMangaungBloemfonteinWaterkrisisBloemwater

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!