Die sterk groei wat die VF Plus ondervind, het die party genoop om nuwe tegnologie in te span om die party se veldtog vir die 2016-munisipale verkiesing te stroomlyn, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Dr. Mulder sê die VF Plus stel in die komende verkiesing meer kandidate as ooit tevore. Die party stel kandidate in meer as 3000 wyke, en beleef ‘n geweldige toename in belangstelling en die inskrywing van nuwe lede.
Hy sê provinsiale kantore van die VF Plus is in die laaste maande oorval met navrae van kiesers oor onder meer wie hul kandidate is, en dit het daartoe gelei dat die party mnr. Wouter Wessels, jeugleier van die VF Plus die opdrag gegee het om tegnologie te ontwikkel om die kandidate aan kiesers bekend te stel.
“’n Webplatvorm is ontwikkel, naamlik. www.wieismykandidaat.co.za wat gebruikers in staat stel om deur sy of haar ID-nommer in te sleutel, te sien wie VF Plus-kandidaat in sy of haar wyk is. Die platform vertoon die naam, foto en agtergrond-inligting van die betrokke kandidaat.
“ ‘n Sellulêre toepassing is ook ontwikkel en kiesers kan daardeur die bogenoemde inligting bekom, met die party in verbinding tree, en meer oor die party uitvind.
“Die VF Plus besef hoe belangrik dit is om deurentyd aan die spits van nuwe en innoverende tegnologie te bly en dit toenemend as kommunikasiemiddel aan te wend,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670