Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

VF Plus ontvang tweede feitesending van Europese Parlement oor brandpunte in Suid-Afrika

‘n Afvaardiging van die Europese parlement op ‘n feitesending na Suid-Afrika het die VF Plus vandeesweek in Kaapstad besoek om met die leierskap van die party te praat oor brandpunte in Suid-Afrika, en in die besonder oor plaasaanvalle en onteiening sonder vergoeding.

Die afvaardiging is gelei deur mnr. Nicolas Bay van die groep Europe of Nations and Freedom (ENF) waarvan hy ook die mede-president is. Mnr. Bay is van die Franse party Rassemblement National (RN) van Marine Le Pen. Hy is vergesel van mnr. Philip Claeys van Vlaams Belang in Vlaandere, België. (Sien meegaande foto onderaan verklaring).

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, dr. Corné Mulder (hoofsweep) en dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die party, het die groep te woord gestaan en hulle voorsien van agtergrondinligting en statistiek oor plaasaanvalle en die grondkwessie, en hulle eerstehands ingelig oor die politieke situasie in Suid-Afrika.

Die gesprek vorm deel van die VF Plus se "Slaan terug SA"- veldtog as daadwerklike poging om die internasionale gemeenskap in te lig ten opsigte van die huidige bedreiging van eiendomsreg in Suid-Afrika en ander menseregtevergrype.

Dié gesprek het gevolg op die besoek van 'n afvaardiging van die Duitse AfD (Alternative for Germany)-party aan die VF Plus se parlementêre koukus waar dieselfde kwessies onder die loep geneem is.

Dr. Groenewald het België vanjaar ook besoek as deel van hierdie internasionaliseringsveldtog. Hy het onder meer aan 'n stille-protesoptog van Vlaams Belang-Jeugaksie teen plaasmoorde in Gent deelgeneem en toegespreek, met Europese parlementslede vergader en die presidensie van UNPO (Unrepresented Nations & Peoples Organization) toegespreek.

Dr. Corné Mulder het die Europese Unie ook vanjaar besoek op uitnodiging van ‘n Britse lid van die Europese Parlement, me. Janice Atkinson, waar hy die geleentheid gekry het om Europese parlementslede eerstehands in te lig oor plaasaanvalle en onteiening sonder vergoeding.

Indien die Grondwet van Suid-Afrika wel gewysig word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, sal dit 'n oortreding van onder meer die Verenigde Nasies se Handves en Internasionale Deklarasie op Menseregte wees.

Dit is daarom belangrik vir die VF Plus om die program van internasionalisering voortdurend te dryf en met die internasionale gemeenskap te skakel sodat die buiteland betyds van die verwikkelinge in Suid-Afrika kan kennis neem.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.