VF Plus-leier tot presidensie van UNPO verkies

2017-06-28
Dr Pieter Groenewald

Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, is vandag as verteenwoordiger van die Afrikanervolk verkies tot die Presidensie of dagbestuur van UNPO (Unrepresented Nations and Peoples Organization), die internasionale liggaam vir die bevordering van minderheidsgroepe se regte.

Die party se vorige leier, dr. Pieter Mulder, was voorheen ook lid van die dagbestuur.

Dr. Groenewald, wat met die dertiende Algemene Vergadering van UNPO in Edinburgh, Skotland, tot die presidensie verkies is, het dit as ʼn groot eer en voorreg bestempel aangesien UNPO ʼn sambreelorganisasie is wat groepe van lande regoor die wêreld, soos Tibet van die Dalai Lama en Taiwan verteenwoordig.

ʼn Mosie van dr. Groenewald oor die ANC-regering se aftakeling van die land se ekonomie, korrupsie, magsmisbruik, die marginalisering van minderheidsgroepe, rassepolarisasie en die aanvalle op die boeregemeenskap van Suid-Afrika, is tydens die kongres aanvaar.

Volgens dr. Groenewald is die aanvaarding van sy mosie ʼn duidelike teken dat die ANC se beeld in die buiteland vinnig besig is om te taan en dat die internasionale gemeenskap met nuwe oë na die lot van die Afrikaner en ander minderhede in Suid-Afrika begin kyk.

“Dit is belangrik dat die wêreld deurlopend en eerstehands kennis neem van die situasie in Suid-Afrika wat alle menseregtevergrype en ander vergrype van die regering insluit.

“Dit is waarom dit van die grootste belang is dat die Afrikaner op die internasionale verhoog by ʼn organisasie soos UNPO ʼn stem en verteenwoordiging het,” sê dr. Groenewald.

UNPO het tans meer as 150 lede wat honderde miljoen mense wêreldwyd verteenwoordig.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!