VF Plus-leier in Limpopo besoek skole in Potgietersrus

2020-01-15
Marcelle Maritz

Die nuwe skooljaar het vandag afgeskop en die VF Plus in Limpopo het die geleentheid gebruik om skole te besoek en aan leerlinge en skoolhoofde sterkte toe te wens vir 2020.

Dit is ook 'n nuwe geleentheid vir die onderwysdepartement om sy prioriteite in orde te kry en te konsentreer op die nege skole in die provinsie wat ʼn 0%-matriekslaagsyfer gehad het. Dit is tyd dat die departement dringend oplossings vir dié skole moet vind.

Die VF Plus in Limpopo is trots op die hoë standaard van skole in Potgietersrus. Die personeel en hoofde doen hul pligte nog met toewyding en passie. Dit is duidelik sigbaar in die netheid van die skole en terreine en die vriendelikheid van leerlinge.

Die VF Plus het van die geleentheid gebruik gemaak om sy ondersteuning aan die skoolhoofde en personeel vir die nuwe jaar te bied.

Onderwys is een van die fokuspunte van die VF Plus en die party se provinsiale leier dien op die onderwysportefeulje in die provinsiale wetgewer. Saam kan daar wel 'n positiewe impak op die toekoms van leerlinge gemaak word.


Kontaknommer: 066 024 4623

MarcelleMaritzLimpopo#School2020

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!