VF Plus-Jeug in Gauteng word deel van die Voortrekkermonument se ‘Herbou die Monument-projek’ om geskiedenis vir nageslag te bewaar

2020-09-29
Jean Kriek

Die VF Plus-Jeug in Gauteng het gestalte gegee aan sy taak om die Afrikaner-erfenis vir die nageslag behoue te laat bly deur deel te word van die Voortrekkermonument se ‘Herbou die Monument-projek’.

Die party se jeug het die senotaaf in die Voortrekkermonument teen ‘n bedrag van R50 000 ‘gekoop’ as deel van die Voortrekkermonument se projek om geld in te samel vir instandhouding. Die koper ontvang ‘n sertifikaat en die inligting word ook in die monument se argiewe aangeteken.

Die Voortrekkermonument en Erfenisstigting is weens die Covid-19-pandemie finansieël geknou aangesien hulle hoofsaaklik van toerisme afhanklik is vir fondse.

Die Afrikaner-erfenis is net soos ander kulture geskaaf en gevorm deur sy geskiedenis en dit is die jeug se taak om te sorg dat dit in geheel vir die nageslag behoue bly. Die VF Plus-Jeug is daarom aktief by die bewaring van monumente en gedenkwaardighede in die provinsie betrokke.

Die VF Plus-Jeug het die senotaaf gekies omdat dit die sentrale fokuspunt van die monument is wat die rusplek van die Voortrekkerleier Piet Retief en al die Voortrekkers wat tydens die Groot Trek gesterf het, simboliseer.

Die argitek van die monument, Gerhard Moerdijk, het die senotaaf so ontwerp dat die son op 16 Desember om 12:00 deur die opening van die koepeldak van die monument skyn op die woorde “ons vir jou Suid-Afrika” wat op die senotaaf uitgegraveer is.

Die senotaaf is van rooi graniet uit die Parys-distrik in die Vrystaat gemaak.

Die publiek het die geleentheid om geldelik by te dra tot die beskerming van die geskiedkundige erfenis van Suid-Afrika. Besoek gerus die skakel: http://bit.ly/Erfenisdag vir nader besonderhede.


Navrae: 079 224 7321

JeanKriekAfriikanerErfenisVoortrekkermonument

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!