VF Plus in Mpumalanga vra wetgewer om dringende debat oor hulp aan toerisme- en gasvryheidsbedryf

2021-02-04
Werner Weber

Die VF Plus gaan Mpumalanga se LUR vir toerisme, Pat Ngomane, versoek dat ras nie gebruik moet word in die toekenning van fondse aan toerisme- en gasvryheids-ondernemings in Mpumalanga wat aansoek doen om finansiële bystand van die toerisme verligtingsfonds nie.

Die departement het R10 miljoen beskikbaar gestel vir die doel.

Dit het onder die VF Plus se aandag gekom dat besonderhede van aansoekers se swart ekonomiese bemagtiging (SEB)-sertifikaat op die aansoekvorm gevra word alhoewel dit nie as vereiste in die amptelike advertensie genoem word nie.

Die VF Plus gaan Ngomane vra om SEB nie as kriterium te gebruik om toerisme- en gasvryheid-ondernemings finansieel te help nie en om ‘n deursigtige toekenningsproses te volg om so veel ondernemings as moontlik in die bedryf by te staan. Dit sal bydra tot werkskepping en ekonomiese groei in die provinsie.

Alle rasse word in die toerismebedryf verteenwoordig en Covid-19 tref geen onderskeid wanneer dit by die keuse van slagoffers kom nie. Die provinsie se departement vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme moet dus ook nie op grond van ras diskrimineer teen aansoekers nie.

Die VF Plus het reeds verlede jaar ‘n vraag aan die LUR gerig en gevra om statistiek oor die aantal SEB- en nie-SEB-ondernemings wat finansieel gesteun is. Geen antwoord is ontvang nie.

‘n Versoek is ook gerig aan die speaker van die wetgewer, Busisiwe Shiba, om ‘n debat van dringende belang op die ordepapier te plaas oor die ekonomiese belang van Mpumalanga se toerisme- en gasvryheidsbedryf, ongeag ras.

Die premier, Refilwe Mtsweni-Tsipane, sal ook op 11 Maart ‘n direkte vraag van die VF Plus oor die aangeleentheid in die wetgewer moet beantwoord.

Die toerisme- en die gasvryheidsbedryf lewer ‘n groot bydra tot Mpumalanga se ekonomiese welvaart en dit is in almal se belang dat die bedryf die Covid-19-pandemie moet oorleef.



WernerWeberMpumalanga#Covid19SAToerismebedryf

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!