Die VF Plus het Mpumalanga se LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), mnr. Mandla Msibi, gevra wat sy departement se gebeurlikheidsplan is oor watervoorsiening tydens beurtkrag.
Beurtkrag veroorsaak dat byna elke munisipaliteit in Mpumalanga sonder water is omdat die pompe wat water aan die woongebiede verskaf, nie sonder elektrisiteit kan funksioneer nie.
Verskeie munisipaliteite het nie eens 'n kragopwekker by reservoirs nie.
Wanneer elektrisiteit wel beskikbaar is, is die water, wat deur die voorstede ontvang word, vuil en besoedel.
Skoon, drinkbare water is ’n basiese reg en die voorsiening daarvan is die verantwoordelikheid van die munisipaliteite.
Die VF Plus is van mening dat waterpompe gevrywaar moet word van beurtkrag. Indien dit nie gou gebeur nie, is dit belangrik dat die munisipaliteit gebeurlikheidsplanne, soos kragopwekkers of sonpanele, in plek het.
Watervoorsiening moet ten alle tye verseker word.
Indien water nie na voorstede gepomp kan word nie, is dit onvermydelik dat afvalwater soos riool, ook nie weg van voorstede af gepomp kan word nie.
Die departement moet daarom ook antwoord oor sy plan om ’n ramp van hierdie aard te voorkom en hoe waterbehandelingswerke tydens beurtkrag bestuur word.