VF Plus in Emfuleni help inwoners elektrisiteit herstel terwyl ANC-ondersteuners verwoesting saai

2021-01-06
Gerda Senekal

Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) is Maandagoggend tot stilstand gedwing toe ‘n groot groep ANC-ondersteuners werkers toegang tot die munisipale kantore in Vanderbijlpark geweier en verwoesting gesaai het.

Inwoners, hoofsaaklik afkomstig uit die suide van Emfuleni, eis die onmiddellike bedanking van die Emfuleni-burgemeester, Gift Moerane.

Strate om die munisipale kantore is afgesper, kantoorvensters is gebreek en vullis is uitgegooi en aan die brand gesteek.

Intussen het alle noodsaaklike dienslewering tot stilstand gekom en is ‘n groot gebied sonder elektrisiteit gelaat terwyl water en riool deur die strate spoel.

Die VF Plus moes dringend inwoners van Bonanne en Stefanopark nader vir die aankoop van ‘n elektriese kabel om ‘n vyfdae lange-kragprobleem in die gebied te herstel terwyl water na ander woonbuurte aangery moes word.

Die VF Plus veroordeel die optrede van inwoners wat verwoesting saai ten sterkste en het reeds in gesprek getree met die speaker van die munisipaliteit, Maipoto Tsokolibane, om die situasie te ontlont sodat dienslewering kan voortgaan.

Die Emfuleni-munisipaliteit gaan reeds vir meer as ‘n jaar gebuk onder ernstige krag- en wateronderbrekings weens swak of geen onderhoudswerk en verouderde infrastruktuur.

Die VF Plus het reeds die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Lebogang Maile, versoek om die munisipaliteit se administrateurs te vervang met meer bekwame persone en sal nie huiwer om ‘n mosie van wantroue in die burgemeester van Emfuleni gedurende die volgende raadsvergadering in te stel nie.



DiensleweringGerdaSenekalEmfuleniANC

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!