Die VF Plus is bekommerd dat die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM) nog nie die 2022/23-begroting goedgekeur het nie en dit terwyl die sperdatum van 1 Julie, waarop dié begroting in werking moet tree, vinnig nader kom.
Tot op hede het geen begroting uit die burgemeester, Eugene Johnson, se kantoor gekom nie en geen redes is aan die raad verskaf vir die versuim nie.
Volgens die Munisipale Finansiële Bestuurswet moes ‘n begroting op die laatste teen 31 Mei voor die raad gedien het.
Indien die begroting nie voor die eerste dag van die nuwe finansiële jaar (1 Julie 2022) goedgekeur word nie, moet die raad deur die provinsiale regering ontbind word. Daar sal dan 'n herverkiesing van die raad moet plaasvind.
Verder moet ‘n meerderheid van raadslede ingevolge Artikel 160(3)(b) van die Grondwet ‘n begroting goedkeur wat heel moontlik nie in NMBM gaan gebeur nie.
Die VF Plus het 'n brief aan die burgemeester gerig en gevra dat die kwessies dringend aangespreek moet word en haar herinner aan haar pligte as die eerste burger van die metro.
Die nie-goedkeuring van ‘n begroting vir die volgende finansiële jaar kan ernstige gevolge inhou vir dienslewering veral in hierdie tyd waar ‘n ernstige waterkrisis die metro in die gesig staar.