VF Plus gryp in om voortslepende waterkrisis in Emalahleni op te los

2021-10-08
Willie van Dyk

Die VF Plus in die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, eMalahleni/Witbank) het by die groeiende waterkrisis in Witbank ingegryp en teen Donderdag het die meeste gedeeltes van dié dorp weer water gehad.

Die waterkrisis duur al sporadies vir maande en nadat verskeie wyke weer vir tot drie weke lank min tot geen water gehad het nie, het die VF Plus Woensdag 'n dringende vergadering met mnr. Shadreck Ndlovu, van die munisipaliteit se water- en sanitasie-departement gehad.

Tydens die vergadering is ooreengekom dat daar dringend aandag aan die toenemende waterprobleem gegee sal word.

Watertoevoer is Donderdag na groot gedeeltes van Witbank herstel na die departement het met noodherstelwerk aan waterpype begin.

Die huidige waterkrisis wat dié munisipaliteit ervaar, het egter nie oornag ontstaan nie. Swak beplanning van die munisipale bestuurder, Sizwe Mayisela en sy voorgangers, speel ʼn groot rol aangesien infrastruktuur soos pyplyne, damme, watersuiweringsaanlegte en waterpompe nie behoorlik in stand gehou word nie.

Die enigste langtermyn-oplossing vir die Emalahleni-munisipaliteit se waterkrisis en algemene diensleweringsprobleme is vir inwoners om met die komende plaaslike regeringsverkiesing saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ʼn sterk boodskap aan die ANC te stuur dat die vernietiging van die eens vooruitstrewende munisipaliteit nie langer geduld sal word nie. Die verval kan gestop word.


Navrae: 084 652 9164 / 082 887 5403

 

WaterkrisisWillieVanDykEmalahleni

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!