Die VF Plus se raadslid in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) moes noodgedwonge ingryp en help om kragprobleme in groot dele van Vanderbijlpark te herstel nadat ‘n substasie verlede Vrydag deels ontplof en ‘n ander se dak inmekaar getuimel het.
Die SE3-substasie, wat hoofsaaklik woongebiede in Emfuleni van elektrisiteit voorsien, se dak het Vrydagmiddag inmekaar getuimel en groot skade aan die substasie aangerig. Met die hulp van sakemanne het die VF Plus kort daarna begin om die rommel te verwyder en die kragtoevoer tydelik te herstel. Skenkings van klip, sement en bakstene is ook ontvang om die gebou te herstel.
Die tweede substasie wat die sentraal-westelike areas soos Stephonapark, Bonnane, Mavango, Bophelong en ‘n industriële gebied van elektrisiteit voorsien, het Vrydagmiddag deels ontplof. Die gebiede is steeds sonder krag.
Inwoners het Maandagaand om dié substasie vergader, buitebande gebrand en daarop aangedring dat die munisipaliteit die substasie dadelik herstel. Dié substasie het sedert 2018 al drie keer weens probleme deels ontplof waarna die VF Plus in samewerking met donateurs R240 000 geskenk het om die dak te herstel.
Beide substasies se wanfunksionaliteit word toegeskryf aan die munisipaliteit se onvermoë om die elektrisiteitsnetwerke in stand te hou.
Die Emfuleni-munisipaliteit wat onder gedeeltelike administrasie deur die Gauteng-provinsie bestuur word, het deur die jare minimale voorsiening in die begroting gemaak vir opgradering- en instandhoudingswerk. Substasies is vervalle en elektrisiteitsnetwerke oorlaai weens die toename in kragverbruik.
Diensverskaffing in Emfuleni het ook nie verbeter sedert die munisipaliteit onder gedeeltelike administrasie geplaas is nie.
Hierdie is weer ‘n bewys dat die ANC nie dié munisipaliteit suksesvol tot voordeel van belastingbetalers kan bestuur nie.
Die VF Plus is daagliks besig om diensleweringprobleme in Emfuleni aan te spreek en te help oplos. Die party sal volgehoue druk op die munisipaliteit plaas om kragvoorsieningprobleme op te los.
Navrae: 076 616 2124