VF Plus gryp in by Steve Biko-Hospitaal ná pasiënt se noodkreet

2019-10-11
Philip van Staden

Die VF Plus het ingegryp by die Steve Biko-Hospitaal in Pretoria nadat ‘n pasiënt uit desperaatheid na die VF Plus om hulp geroep het.

Die VF Plus het afgelope Woensdag, ironies genoeg tydens ‘n sitting van die parlement se portefeuljekomitee oor gesondheid, eerstehands van ʼn pasiënt se skokkende ervaring by dié hospitaal gehoor.

Die pasiënt (wie se naam weerhou word) se arm was gebreek en die hospitaal het hom vir tien dae sonder kos of water gelaat omdat hy ‘n operasie moes ondergaan om die arm weer te heg en die prosedure dag na  dag uitgestel is weens ʼn oorvol teater. Intussen het die arm swart begin verkleur en die persoon het erge pyn verduur.

Om die situasie te vererger, was hy voor dit vir twee dae in die Ga-Rankuwa-Hospitaal waar hy ook geen behandeling ontvang het nie. Hy is op 2 Oktober in die Steve Biko-Hospitaal opgeneem

Die VF Plus is omstreeks 09:15 oor die voorval ingelig en het dadelik die voorsitter van die portefeuljekomitee, die Gautengse LUR vir gesondheid asook die Gautengse departement van gesondheid oor die voorval ingelig.

Teen 10:39 is die pasiënt reeds na die teater geneem en die operasie is gedoen. Hy het die VF Plus na die operasie gebel om dankie te sê vir die ingryping. Die VF Plus is bly hy kon help en wens die persoon spoedige beterskap toe.

Hierdie enkele voorval laat opnuut die kollig van op openbare gesondheid in Suid-Afrika wat regdeur die land  in ‘n geweldige krisis is en dit beklemtoon die VF Plus se standpunt dat gesondheidsorg net verder in die afgrond gedryf gaan word onder ʼn program soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat die regering op alle Suid-Afrikaners wil afdwing.

Die VF Plus sal aanhou om namens die publiek te veg teen ongerymdhede en onbevoegdheid en sal nie skroom om voorvalle soos hierdie aan die groot klok te hang nie.

Wanadministrasie en wanbestuur in die openbare gesondheidsorg moet met wortel en tak uitgeroei word. Die VF Plus word intussen van die pasiënt se vordering en verdere behandeling in die hospitaal op hoogte gehou en sal hom binnekort gaan besoek.

Die VF Plus het versoek dat ‘n ondersoek na die voorval gedoen word.

 

Navrae: Tel: 060 556 4347  (012) 772 4410  (021) 403 3036

 

PhilipVanStaden

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!