VF Plus gryp in by onwettige grondbesetting in Potchefstroom

2021-01-12
Die Redaksie

Die VF Plus het onmiddellik ingegryp nadat 'n groep mense vanoggend op landbougrond by die Mooibank-hoewes by Potchefstroom toegesak en erwe begin uitmeet het vir klaarblyklike besetting.

Die betrokke grond vorm onderskeidelik deel van die landboukollege onder die beheer van die departement van landbou asook 'n stuk munisipale grond.

Ná skakeling met die departement, het 'n woordvoerder onderneem om die saak dringend op te volg. Hy het intussen bevestig dat klagte by die polisie teen die besetters ingedien gaan word.

Die aangeleentheid is ook onder die aandag gebring van mnr. Lebo Ralekgetho, munisipale bestuurder van die JB Marks-munisipaliteit wat onderneem het om dringend stappe te neem aangesien die grond binne die munisipale gebied val.

Die betrokke grond is totaal ongeskik vir ‘n menslike nedersetting aangesien dit turfagtige kleigrond is wat gereeld onder water is.

Die VF Plus-wykraadslid en die plaaslike VF Plus-LP in die NRP, Fanie du Toit, monitor die verwikkelinge op die onderskeie regeringsvlakke en sal voortgaan om druk op die owerhede toe te pas om te verseker dat daar ferm opgetree word teen die onwettige besetters, en in besonder diegene wat die besetting aanhits.

Daar kan nie toegelaat word dat lanboubedrywighede, wat ‘n kern-komponent van die plaaslike ekonomie vorm bedreig word deur roekelose en klaarblyklik politiek-gedrewe elemente in die gemeenskap nie.


Navrae: 083 291 5199

PotchefstroomEverhardLaingGrondbesetting

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!