VF Plus gaan voorstelle aan Gautengse polisiekommissaris doen om krag- en substasies te beskerm

2020-02-19
Kobus Hoffman

Die VF Plus gaan vergader met die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, om voorstelle te doen rakende die beskerming van krag- en substasies in Gauteng teen voortdurende vandalisme wat woonbuurte en winkelsentrums vir lang tye sonder elektrisiteit laat.

In Randfontein is ‘n substasie in ‘n industriële gebied Sondagaand gevandaliseer waarna verskeie fabrieke van kragopwekkers gebruik moes maak. Die skade aan die substasie word op bykans ‘n miljoen rand geraam.

Kabeldiefstal en vandalisme by krag- en substasies kos Eskom na raming R200 miljoen per jaar.

Gedurende April 2018 tot Maart 2019 is 1 091 kabeldiefstal- en vandalisme-voorvalle in verskillende dele van Gauteng aangemeld.

Ander uitdagings is onwettige elektrisiteitsverbindings wat stelsels oorlaai en kragonderbrekings veroorsaak, ʼn gepeuter aan kragmeters en infrastruktuur wat vernietig word.

Sedert die wysiging in die Strafproseswet in 2015 om sekere optredes as statutêre misdaad te verklaar, is kabeldiefstal baie meer verreikend as net gemeenregtelike diefstal.

Persone wat skuldig bevind word aan kabeldiefstal, kan ‘n vonnis van minimum dertig jaar opgelê word. ‘n Maatskappye wat hulle daaraan skuldig maak, kan ‘n boete van minstens R100 miljoen opgelê word.


Kontaknommer: 071 640 7283

KobusHoffmanGautengKabeldiefstal

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!