VF Plus eis ondersoek oor optrede van Mangaung-metropolisie

2021-10-06
Dr. Elizabeth Snyman-van Deventer

Die optrede van die Mangaung-metropolisie wat vanoggend die Bram Fischer-gebou in ʼn ongehoorde magsvertoon beset het, is volgens die VF Plus onwettig en moet ondersoek word.

Lede van die metropolisiediens het die gebou se ingang onder meer met voertuie geblokkeer en mense toegang geweier. Munisipale werkers is uit die gebou gejaag en belangrike werk kon nie gedoen word nie.

Die publiek wat onder meer munisipale rekeninge wou betaal, moes onverrigter sake omdraai.

Die VF Plus waarsku lank reeds teen die ANC se onvermoë om ʼn effektiewe metropolisiediens te bestuur en hierdie is ʼn duidelike bewys daarvan.

Die metropolisielede is glo ontevrede omdat hulle nog nie hul aanstellingsbriewe ontvang het nie.

Die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het intussen gesê dat die werksaamhede van die metropolisiediens opgeskort is weens toenemende druk uit die gemeenskap oor die wyse waarop die munisipale bestuur die metropolisie tot stand gebring het.

Armand Cloete, VF Plus-LPW, het die voorsitter van die betrokke komitee in die Vrystaatse wetgewer versoek om dringend 'n vergadering te belê met die LUR, Mxolisi Dukwana, om die aangeleentheid te bespreek en antwoorde oor die aangeleentheid te verskaf.

Dit is ontoelaatbaar vir metropolisielede om die stad gyselaar te hou weens ʼn arbeidsaangeleentheid waarvoor daar interne prosesse bestaan.

Die optrede van die metropolisie onderstreep die waarskuwing van die VF Plus dat ʼn metropolisie wat nie effektief bestuur word nie, in ʼn afvallige gewapende mag kan verander.

Vanoggend se optrede het bewys waar uniforms, vuurwapens, knuppels en voertuie in die hande van onopgeleide mense geplaas word, dit in ʼn gevaarlike situasie kan ontaard.

Die publiek se ontevredenheid oor die eenheid spruit onder meer uit die feit dat 24 van die beamptes glo misdaadrekords het.

Die VF Plus sal in die metroraad eis dat die aangeleentheid ondersoek word. Dit sluit in die misbruik van die metropolisie se voertuie en die optrede van persone in uniform.

Navrae: 082 305 1540

 

DrElizabethSnymanVanDeventerMangaungMetroMangaungMetroPolisie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!