VF Plus eis ferm optrede teen tenderbendes wat vullisverwydering in Potchefstroom ontwrig

2021-06-08
Everhard Laing

Die VF Plus het vandag vergader met die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom, Ventersdorp) se munisipale bestuurder, Olofentse Masibi, en versoek dat dringend opgetree word teen ‘n groep tenderbendes wat vullisverwydering in Potchefstroom deur protesoptrede ontwrig.

Masibi het hierop onderneem om onmiddellik aandag aan die kwessie te skenk en het ook die polisie versoek om in te gryp by die protesaksie by die vullisstortingsterrein.

Die betogers eis skynbaar dat tenders vir die verwerking en herwinning van vullis aan hulle toegeken word in die plek van die plaaslike maatskappy wat tans die stortingsterrein bestuur.

Dieselfde groepering het vroeër vanjaar ook die installering van die veselnetwerk in Potchefstroom ontwrig en die kontrakteurs en hul werknemers gedreig en geïntimideer.

Hierdie situasie is totaal onaanvaarbaar. Daar kan nie toegelaat word dat munisipale dienste gedurig ontwrig word en gemeenskappe gyselaar gehou word deur die eise en wettelose optrede van tenderbendes nie.

Die owerhede moet ferm optree en streng geregtelike stappe neem teen die aanstigters van sulke gedrag.

Die VF Plus sal die situasie monitor en voortgaan om druk toe te pas sodat gepaste stappe teen die skuldiges geneem word.


Navrae: 083 291 5199

JBMarksMunisipaliteitEverhardLaingTenderbendes

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!