VF Plus dien voorstelle in om berugte Numbi-hekroete vir toeriste te beveilig

2022-05-13
Werner Weber

'n Veiligheidsplan vir toeriste in Mpumalanga is eenparig aanvaar nadat die VF Plus dit by provinsiale wetgewer ingedien het.

Die plan fokus spesifiek op die omgewing naby die Nasionale Krugerwildtuin se Numbi-hek.

Die afgelope paar weke is verskeie besoekers aan die Krugerwildtuin deur gewapende mans beroof nadat hulle die park via die Numbi-hek verlaat het.

In 'n kort bestek van tyd is daar op 'n ma en haar kinders in hul voertuig geskiet, twee Duitse toeriste is helder oordag beroof en 'n gesin van vyf is gestop en beroof.

Die VF Plus dring onder meer aan op ʼn sterk polisiesigbaarheid in hierdie gebied.

Die VF Plus vra in die veiligheidsplan die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid se samewerking met betrekking tot:

• Identifikasie en ontleding van sleutelbrandpunte,
• Vestiging van 'n databasis van misdaad teen toeriste,
• Verbetering van die toerisme-omgewing deur sigbare polisiëring en die implementering van toerisme-moniteringsprogramme, en
• Vestiging van 'n 24-uur blitslyn vir toerismeveiligheid.

Die doel van die veiligheidsplan is ook om 'n vennootskap tussen die openbare en private sektore te bevorder om kwessies van toerismeveiligheid op 'n meer gekoördineerde wyse aan te spreek.

Die doel is om 'n verbeterde toerisme-ervaring te bied en moontlike persepsies van Mpumalanga as 'n onveilige bestemming te verander.

Oor die volgende drie jaar sal R370 miljoen bestee word aan die opgradering van toerismegeriewe, paaie en hekke rondom die Krugerwildtuin.

Al hierdie geld wat bestee word, sal egter niks beteken as die toerismeroetes na die park, spesifiek die Numbi-hekroete, 'n brandpunt vir misdaad bly nie.

Die beskerming van alle toeriste, voorkoming van georganiseerde misdaad en die bevordering van volhoubare toerisme-ontwikkeling is uiters belangrik vir Mpumalanga.



 

WernerWeberToerismeKrugerwildtuinNumbi-Hek

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!