VF Plus dien verslag by parlement in teen Nasionale Gesondheidsversekering

2022-11-28
Philip van Staden

Die VF Plus het sy minderheidsverslag teen die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) die afgelope Vrydag by die parlement ingedien om sy sterk teenkanting daaroor uit te spreek.

Die VF Plus het reeds in Mei 2022 aan die parlement se portefeulje komitee oor gesondheid dit duidelik gestel dat die party die wetsontwerp in sy geheel verwerp.

Verskeie debatte het die afgelope maande in die komitee plaasgevind met die behandeling van die wetsontwerp se onderskeie klousules. Die VF Plus het ook hier telkens sy mening oor die wenslikheid daarvan uitgespreek.

Die geveg rondom die NGV-Wetsontwerp duur nou al drie jaar vandat die vorige minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, dit in 2019 ter tafel gelê het.

Verskeie prosesse het reeds plaasgevind soos ʼn openbare deelnameproses waar 338 891 insette vanaf die publiek en rolspelers in die mediese bedryf ontvang is.

Die VF Plus se eie verslag van 44 bladsye teen die NGV lê klem op verskeie moontlike gevare wat die wetsontwerp inhou indien dit op die wetboek geplaas word.

In die verslag spreek die party sy kommer uit oor die registrasieproses van geakkrediteerde gesondheidsorggeriewe, die inwerkingstelling van elektroniese pasiënte-databasisse by staatshospitale, die sluier wat nog hang oor die totale koste van die NGV en presies hoe dit gefinansier gaan word.

Verdere vrae is aangaande onsekerheid oor die finale rol wat mediese skemas, private hospitale en private dokters onder die NGV gaan speel, die effek wat die NGV reeds op die ekonomie gehad het en nog kan hê, kommer oor verslae vanaf die ouditeur-generaal (OG) rakende die onderbesteding van begrotings en mediese toerusting wat nie gebruik word nie.

Die tekort aan medisyne, die uitdagings wat ondervind word met NGV-loodsprojekte en die gevaar dat die NGV soos ander staatsentiteite ook sal misluk weens wanbestuur, wanadministrasie en korrupsie word uitgelig. Laasgenoemde was reeds sigbaar met die Digital Vibes-skandaal.

Die VF Plus het die huidige vervalle infrastruktuur by hospitale uitgewys asook die tekortkominge rondom die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde wat ʼn rol speel in hierdie probleem.

Die tekort aan dokters en verpleegsters, die groot agterstand in mediese prosedures asook die enorme eise vir mediese nalatigheid, word voorts in die VF Plus-verslag uitgewys.

Dit maak ook melding van die verskillende hospitale waaroor die party klagtes vanaf die publiek ontvang het sedert hy sy veldtog in Junie 2022 teen die swak behandeling van pasiënte in staats- en provinsiale hospitale geloods het.

Die algehele swak hantering van die Covid-19-pandemie, die onbevoegdheid van die regering en die departement van gesondheid om behoorlik na pasiënte gedurende hierdie tydperk om te sien, asook korrupsie wat gedurende hierdie tydperk plaasgevind het, is ook deel van die verslag.

Die verslag maak dit duidelik dat die NGV nie die regte manier is om gesondheidsorg aan Suid-Afrika se bevolking te verskaf nie en dat ʼn plan vir ʼn gesondheidstelsel, wat beide die private en openbare sektor akkommodeer, ontwikkel moet word en dat alle medici moet saamwerk om so ʼn plan saam te stel.

Suid-Afrika benodig ʼn stelsel wat ontwikkel is deur medici en nie deur ANC-politici of regeringsamptenare nie. ʼn Stelsel wat nie die private gesondheidsorg sal vernietig of nasionaliseer ter wille van die reeds vernietigde openbare gesondheidsorgstelsel of ANC-gedrewe besluite nie.

 

PhilipVanStaden#Nasionalegesondheidsversekering

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!