VF Plus dien klag in teen misleidende DA-propaganda

2016-07-19
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus het vandag ʼn klag by die Verkiesingskommissie (VK) ingedien teen inligting in ʼn verkiesings-advertensieveldtog van die Demokratiese Alliansie (DA) wat volgens die VF Plus misleidend en vals is, sê dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus.

In die veldtog word kiesers hoofsaaklik gewaarsku om nie vir kleiner partye te stem nie, en dat kiesers hul stemme sal verdeel en mors deur vir ʼn kleiner party te stem. (Volledige klag word hierby aangeheg).

Volgens dr. Groenewald is die optrede ʼn oortreding van die gedragskode van die Kieswet van Suid-Afrika.

Hy sê dit is jammer dat die VF Plus tot dié optrede gedwing word, aangesien daar ʼn sterk moontlikheid is dat die twee partye na die verkiesing moontlik in sommige munisipaliteite as koalisie-vennote sal moet saamwerk om die ANC uit beheer te hou.

“Die VF Plus is ongelukkig geen keuse gelaat as om op tree nie. Dieselfde misleidende veldtog, met inligting wat tegnies bloot onwaar is, is voor die vorige verkiesing ook versprei en het tot groot verwarring onder kiesers gelei.

“Die VF Plus se pleidooi is dat alle partye hul veldtog met die waarheid sal voer, en nie met propaganda wat op leuens gegrond is nie.

“Ingevolge Suid-Afrika se proporsionele kiesstelsel, is dit bloot onwaar om te sê dat ʼn stem vir ʼn kleiner party teen die ANC ʼn vermorste stem is, soos dit in die klag aan die OVK breedvoerig uiteengesit word. Ons het ʼn vorige keer geswyg, maar sal dit nie weer doen nie,” sê dr. Groenewald.

 

Navrae: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

 

 

 

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!