VF Plus dien klag by MRK in teen Malema en EFF-ondersteuners oor “Kill the Boer”-lied op Senekal

2020-10-16
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus veroordeel EFF-ondersteuners se gebruik van die “Kill the Boer”-lied vandag op Senekal ten sterkste en het ‘n klag daaroor teen die betrokke ondersteuners en teen Julius Malema, leier van die EFF, ingedien by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK).

Hierdie soort gedrag is onaanvaarbaar. Plaasmoorde is ‘n realiteit en dit is hierdie soort onverantwoordelike uitlatings en aanhitsing wat sonder enige twyfel ‘n rol speel in plaasaanvalle en -moord.

Die VF Plus het reeds in 2003 daarin geslaag om deur die MRK die sing van die lied tot haatspraak te laat verklaar.

Julius Malema word persoonlik ook aanspreeklik gehou omdat hy openlik haat en geweld predik. Hy het voor vandag se hofsaak op Senekal selfs ‘n burgeroorlog openlik goedgepraat.

Hierdie aanhitsing lei daartoe dat ondersteuners opgesweep word tot aksie soos onlangs gesien is met die landwye Clicks-protesaksies.

Julius Malema is nie verhewe bo die reg nie en die tyd het aangebreek dat daar teen hom opgetree word in die belang van almal in die land.


Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

DrPieterGroenewaldPlaasmoorde#EFF#JuliusMalema#SenekalKillTheBoer

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!