Die VF Plus gaan voorstel dat die strafregkundige dr. Llewellyn Curlewis dien op ‘n onafhanklike paneel wat moet besluit of genoeg bewyse bestaan om pres. Cyril Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging te plaas.
Indien die bewyse gevind word, kan die proses in die Nasionale Vergadering ingevolge Artikel 89 van die Grondwet gevolg word om die president van sy amp te onthef.
Die VF Plus se besluit om dr. Curlewis te nomineer, berus op sy bewese ervaring en kundigheid van Suid-Afrika se strafreg.
Hy is bekend as ’n objektiewe persoon sonder politieke bande wie se besluit oor die aangeleentheid slegs op meriete en die strafreg sal berus.
Dit sluit aan by die VF Plus, wat as deel van ’n forum van politieke opposisieleiers, dit eens is dat komitees in die parlement gevestig moet word om die ANC-regering verantwoordbaar te hou.
Wat president Ramaphosa aanbetref, het ek in ’n toespraak in die parlement aangaande die Phala Phala-aangeleentheid aan hom gesê hy moet oop kaarte daaroor speel met die mense van Suid-Afrika.
Die president het verkies om dit nie te doen nie. Die gevolg is nou dat ’n proses moontlik gaan plaasvind waar hy dit wel sal moet doen.
President Ramaphosa, wat eerder bereid was om voor die ANC se interne integriteitskomitee te verskyn, moes so ’n proses voorsien het.
Dit is jammer dat hy eerder bereid was om die kans te waag om daardeur te gaan as om die publiek in sy vertroue te neem.
Die VF Plus stem saam met ander opposisieleiers daaroor dat die uitvoerende gesag asook die president verantwoordbaar is aan die parlement en steun daarom die proses om hom oor die Phala Phala-miljoene tot verantwoording te roep.