VF Plus betuig meegevoel met naasbestaandes na afsterwe van twee getroue polisielede

2021-10-19
Kobus Hoffman

Die VF Plus betuig hiermee sy meegevoel met die naasbestaandes van twee polisielede wat onlangs onderskeidelik in Pretoria en Khutsong tydens die uitvoering van hul pligte oorlede is.

In een voorval is adj. off. Jan Esterhuysen eergister deur ʼn motor getref waar hy diens gedoen het by ʼn padblokkade in Khutsong aan die Wes-Rand. Die bestuurder van die motor het glo deur die padblokkade gejaag en Esterhuizen getref. Die beseerde Esterhuizen is na ʼn nabygeleë hospitaal gebring, maar het aan sy beserings beswyk. Hy was die bevelshoof van Fochville se sigbare polisiëringseenheid en 27 jaar in diens van die polisie.

In die tweede voorval is adj. off. Stoffel Holtzhausen van Pretoria-Noord verlede Vrydagaand oorlede nadat hy op sy motorfiets vir ʼn voetganger uitgeswenk het. Hy was op pad om skoolkinders te help met inligting oor hoe om hulself te beveilig.

Die VF Plus bring hulde aan die twee polisielede wat die ekstra myl gestap het om nie net hul werk na die beste van hul vermoë te verrig nie, maar ook by gemeenskapsprojekte betrokke was.

 

 

KobusHoffmanGautengPolisie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!