VF Plus bekommerd oor algemene administrasie van Gautengse onderwysdepartement

2019-12-04
Adv Anton Alberts

Die VF Plus is uiters bekommerd oor die algemene administrasie van die Gautengse onderwysdepartement.

Een van die probleme is die uitgawebestuur soos onderstreep in die Ouditeur-generaal se verslag vir die 2018/19 finansiële jaar.

Onreëlmatige besteding en onderbesteding word groter in ʼn tyd wanneer dit nodig is om meer effektief te werk te gaan met geld wat kinders se toekoms bepaal. Die VF Plus neem kennis van die remediërende stappe wat wel geneem word en sal dit monitor.

Die VF Plus is verder bekommerd dat die kwessie van toegang gebruik word om Afrikaanse skole te teiken wat ʼn klein persentasie van alle skole in Gauteng uitmaak.

Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, het vandag erken dat amper 50% van skole in Gauteng nie vol is nie. Sy fokus moet dus eerder wees op die effektiewe gebruik van dié skole sonder om moedertaal-onderrig af te skeep. Die onderwysdepartement het self erken hoe belangrik moedertaal onderrig is.

Die departement moet dus wegbeweeg van taal- en rassepolitiek en fokus op goeie bestuur vir alle leerlinge. Nie almal kan onderrig word in Engels nie en daarom moet moedertaalonderrig geïmplementeer word.

Indien die departement sou fokus op goeie dienslewering, sal foute soos die gebrekkige aanlyn-plasingstelsel uitgeskakel word.


Kontaknommer:082 391 3117

GautengLesufiAdvAntonAlbertsBasieseOnderwys

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!