VF Plus behaal politieke oorwinning deur ANC te dwing om begrotingsvergadering weer aan te bied

2022-06-23
Gerda Senekal

Die VF Plus het gister ʼn politieke oorwinning behaal toe die nasionale tesourie met die VF Plus saamgestem dat die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) ongrondwetlik opgetree het deur die goedkeuring van die 2022/23-finansiële begroting op 31 Mei sonder ʼn meerderheid stemme.

Die ANC-regering het die begroting met ʼn stemtotaal van 42 uit 90 raadslede goedgekeur.

Die VF Plus het dadelik ná die vergadering die speaker, Sibongile Soxuza, in kennis gestel dat verkeerdelik opgetree is en dat die begroting onwettig goedgekeur is.

Die nasionale tesourie het die speaker opdrag gegee om voor 31 Junie ʼn vergadering te belê waar die begroting weer ter tafel gelê moet word.

Indien die meerderheid nie vir die begroting stem nie, moet die stadsraad noodgedwonge ingevolge die Grondwet ontbind. ʼn Tussenverkiesing sal dan binne 90 dae plaasvind.

Nog ʼn pluspunt vir die VF Plus is die erkenning van die Emfuleni-munisipaliteit dat eienaars van eiendom nie vroegtydig in kennis gestel is van waardasieverhogings nie.

Die VF Plus het die speaker daarop gewys dat die proses ook onwettig is waarna die kennisgewingproses met ʼn maand verleng is. Die nuwe waardasierol sal op 31 Julie in werking tree.

Die VF Plus sal nie sy waghondfunksie prysgee en toelaat dat die ANC-regering onregmatig optree nie.

Die inwoners van Emfuleni verdien beter as die ANC.

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!