Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

VF Plus begin veldtog teen omstrede Mogale City-stadsraad

Die VF Plus gaan ‘n dringende versoekskrif rig aan die nasionale minister vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), dr. Zweli Mkhize, om onmiddellik in te gryp in die beheer en bestuur van die Mogale City-munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift).

Die Mogale City-stadsraad is sedert die 2016-plaaslike regeringsverkiesings toenemend in omstredenheid gehul met sigbare wanadministrasie, swak dienslewering en agteruitgang. Die rooi ligte flits vir Mogale City wat reeds soortgelyke simptome begin toon as Emfuleni in die Vaaldriehoek wat tans onder administrasie is en waar inwoners dikwels sonder krag en water oor die weg moet kom.

Mogale City se burgemeester, mnr. Patrick Lepudi, is op 28 Junie 2017 op ‘n onreëlmatige wyse in sy amp verkies deurdat hy tydens sy eie verkiesing as voorsittende beampte van die stadsraad opgetree het. Die huidige speaker is op soortgelyke onreëlmatige wyse verkies.

Die raad funksioneer sedert 2016 sonder ‘n geproklameerde reglement van orde soos vereis word deur die Suid-Afrikaanse Grondwet. Alle besluite wat die raad sedert die plaaslike regeringsverkiesings van 2016 geneem het, is daarom by implikasie onwettig.

Gauteng se LUR vir Cogta (samewerkende regering en menslike nedersettings), mnr. Uhuru Moiloa, het tot dusver in sy oorsigrol gefaal om dit reg te stel selfs nadat die VF Plus dit onder sy aandag gebring het. Die party is in proses om ‘n klag teen die LUR, die burgemeester en speaker voor te berei ingevolge oortredings van die Uitvoerende Lede-Wet.

Talle omstrede grondtransaksies en behuisingsontwikkeling by ondermeer Hekpoort en Tarlton en ook ‘n onwettige poging van die ANC-speaker om ‘n raadsbesluit op 22 Junie 2018 deur te dwing om ‘n oortrokke gerief van R100 miljoen te bekom, kenmerk die onwettige werkswyse van die speaker en burgemeester.

Wanbetaling het in Junie 2018 veroorsaak dat Randwater die watertoevoer na 20% van sy normale kapasiteit gesny het.

Die VF Plus versoek minister Mkhize om die Gautengse LUR tot orde te roep en om die onwettig verkose burgemeester en speaker van Mogale City se raad te verwyder. Dit is tyd dat alle gemeenskappe wat deur die Mogale City-raad bedien word, nou saamstaan om verdere agteruitgang te verhinder.

Onderteken die versoekskrif aan die nasionale minister van Cogta by: www.gemeenskappe.co.za  en eis jou grondwetlike regte nou op.

Kontaknommer: 082 466 3786 / 062 391 1804

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.