Verpleegsteropleiding gaan voort na volgehoue druk vanaf VF Plus

2019-10-16
Philip van Staden

Die opleiding van verpleegsters sal in Januarie 2020 voortgaan nadat die VF Plus sedert verlede Donderdag se vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid volgehoue druk toegepas het om die probleem reg te stel.

Die VF Plus het dadelik na afloop van verlede Donderdag se vergadering die probleem in die openbare domein geplaas en dit het wye reaksie en kommer uitgelok.

Die VF Plus het daarop gewys dat die minister se gesloer met die ondertekening van regulasies vir verpleegopleiding kon beteken dat geen verpleegsters in 2020 tersiêr opgelei sou kon word nie aangesien die huidige regulasies vir opleiding aan die einde van die jaar verval.

Daar was ook ‘n lang vertraging met die ondertekening van die nuwe opleidingsregulasies.

Tydens gister se sitting van die portefeuljekomitee het die VF Plus opnuut die kwessie met die minister opgeneem. Die minister sou eers vandag voor die komitee verskyn, maar die saak moes dringend opgelos word nadat die VF Plus tydens verlede week se vergadering die komiteevoorsitter daarop gewys het dat die saak dringend met die minister bespreek moet word.

Die minister het die VF Plus verseker dat opleiding sal voortgaan in Januarie 2020. Die VF Plus wou meer sekerheid oor dié onderneming kry en die minister en die direkteur-generaal (DG) van die departement van gesondheid was dit eens dat publikasies vandag in die Staatskoerant geplaas sal word wat die probleem sal oplos sodat opleiding van verpleegsters in 2020/21 ongehinderd kan voortgaan.

Die publikasie sal in wese behels dat die private opleidinginstellings geklassifiseer sal word as openbare instellings om sodoende te kan voortgaan met opleidingsprogramme.

Die VF Plus het die minister en die DG daarop gewys dat die party die situasie deeglik sal monitor. Indien daar enige probleme is met die opleiding in Januarie 2020 sal die party die minister en die DG tot verantwoording roep in die belang van almal in Suid-Afrika.


Kontaknommers: 060 556 4347 / 065 801 7216

PhilipVanStadenGesondheid

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!