Verdere hulp aan Eskom feitlik net om skuld te delg, nie om krag op te wek

2019-10-22
Wouter Wessels

ʼn Stabiele kragvoorsiener is van kardinale belang vir ekonomiese groei in Suid-Afrika. Die vraag is daarom nie óf ʼn mislukte Eskom nadelig gaan wees vir die land se ekonomie is nie. Dit is reeds die geval.

Eskom se skuld is so groot dat enige reddingsboei hoofsaaklik gebruik sal word om sy skuld te diens, en nie om krag op te wek nie.

Die vraag moet daarom gevra word of nog ʼn reddingsboei van R59 miljard se belastinggeld die ineenstorting van Eskom gaan stuit en verdere beurtkrag gaan voorkom indien die R83 miljard wat sedert 2006 in Eskom gestort is, hom nie kon red nie?

Daar is wel voorwaardes gekoppel aan die jongste reddingsboei, maar net so was daar aan die vorige R83 miljard. Elke vorige reddingspoging was gemik op die verbetering van kraglewering en voorsieningsvermoë en nie vir operasionele uitgawes waarvoor dit wel aangewend is nie.

Die laaste keer dat Eskom ʼn dividend kon uitkeer aan die regering, was in 2006 toe ʼn skamele R1,6 miljard oorbetaal is.

Die skuld vir die kragvoorsiener se agteruitgang kan net voor die deur van die ANC gelê word. Raadslede en uitvoerende beamptes is deur kaderontplooiing teen reuse salarisse aangestel. Hulle het sienderoë toegelaat dat die onderneming gestroop word terwyl instandhouding en goeie bestuur agterwee gelaat is.

R59 miljard sal Eskom nie red nie. Die regering het nie erns daarmee nie. Dit is vandag bewys deur die ongeërgdheid van lede van die interministeriële komitee oor uitstaande skuld aan Eskom wat nie eens ʼn vergadering van die staande komitee op openbarerekeninge bygewoon het nie.

Deur aan te hou om belastinggeld in die bodemlose Eskom-put te gooi, gaan die probleem nie oplos nie. Dit sal ook nie opgelos word so lank as wat die regering gyselaar gehou word deur sy alliansievennote wat elke voorstel tot ʼn oplossing soos privatisering en ontbondeling afskiet nie.

Kragvoorsiening in Suid-Afrika moet gedereguleer word. Daar moet gesonde kompetisie wees sodat private ondernemings deel van die oplossing kan raak. Dit grens aan waansin om dieselfde fout oor en oor te herhaal, soos met hierdie reddingspakket van R59 miljard.


Kontaknommer: 082 674 6670

 

WouterWesselsFinansiesEskom

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!