‘n Ondersoek na ongeoorloofde- en onbillike praktyke in die vakansieklub-industrie wat ‘n spesiale ondersoekspan van die verbruikerskommissie die laaste paar maande op aandrang van die Vryheidsfront Plus gedoen het, is feitlik voltooi.
Volgens adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, het mev. Prudence Moilwa, hoof van die ondersoekeenheid, hom vandag skriftelik in kennis gestel dat die ondersoek, waar onder meer op tyddeel gefokus is, ‘in alle waarskynlikheid’ teen aanstaande maand afgehandel sal wees.
Die ondersoek het ‘n lang aanloop van bewerings van ongerymdhede en onetiese optrede. Adv. Alberts het dit geïnisieer en gedryf nadat die media daaroor berig het en honderde ontevrede klublede vanoor die land by die VF Plus aangeklop het om hulp.
Die ondersoek wat daarop gevolg het, het 41 van die land se voorste en bekendste vakansieklubs ingesluit.
Adv. Alberts sê hy is verheug oor die verloop van die saak en hy hoop dat dit oplossings en gemoedsrus sal bring vir honderde mense landwyd wat daardeur geraak is - baie van hulle sukkelende pensioenarisse.
“Die VF Plus is ook verheug om te sien dat die vakansieklub-industrie self bekommerd is oor die manier waarop die industrie tot nou toe beheer en bedryf is en uit eie geledere aanbevelings wil maak.
“Hopelik bring dit verdere oplossings vir klublede. Indien nie, sal die verbruikerskommissie sekere oplossings op die industrie moet afdwing aan die hand van die Wet op Verbruikersbeskerming.
“Dit gaan in alle waarskynlikheid lei tot drastiese wetswysigings om ongeoorloofde en onbillike gebruike in die industrie te staak.
“Hierdie sukses is ‘n bewys dat sake van gemeenskaplike belang, veral waar mense nie waarde vir geld kry nie, wel effektief deur die VF Plus behandel kan word,” het Alberts gesê.
Volgens Moilwa het die ondernemings wat ondersoek is, gevra om ‘n tydperk van twee maande – September en Oktober – om te ‘konsulteer’ in ‘n poging om self oplossings te vind vir probleemareas wat in die ondersoek na vore gekom het en om na maniere te soek om self hul sake-model te verbeter.
Die ondersoekspan sal hierdie voorstelle oorweeg voordat die ondersoek afgesluit word, lui Moilwa se antwoord.
Van die kwessies wat ondersoek is sluit in:
1. Die onvermoë van lede om toegang te kry tot geriewe weens ‘n beperkte poel daarvan;
2. Misleidende advertensies en wanvoorstellings tydens aanbiedings van die produkte;
3. Onbillike kontraktuele terme; en
4. ‘n Verbod op die kansellering van die kontrakte en die gevolglike ‘ewigheids’-aard daarvan.
Adv. Anton Alberts
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403